VitaAmp

Die wonde van die lewe

Rugbyspelers, of hokkiespelers wat al hard geval het op ‘n rugby- of hokkieveld verstaan wat dit is om ‘n grass burn op die knie te hê. Dit is baie seer en gevoelig. As jy bad of stort is dit nog seerder as warm water daarop kom. Die aand as jy gaan slaap wil jy ook nie hê dat ‘n laken of duvet daaraan raak nie. Dis baie gevoelig en seer. So ‘n openlike, sigbare grass burn kan almal sien en jy kan dit ontsmet en behandel.

Die beste manier om ‘n emosionele seer of pyn in ‘n mens se hart te beskryf, is om dit te vergelyk met ‘n grass burn op die knie. Die enigste verskil is dat die grass burn op die hart deur niemand gesien kan word nie. Jy kan dus enorme emosionele pyn verduur en maak of dit met jou baie goed gaan. Ja, jy sit jou masker op, lag vir die wêreld terwyl jy aan die binnekant stadig dood gaan en bloei.

As jy die seerplek op die knie gaan verwaarloos en nie gaan ontsmet en behandel nie, gaan dit septies raak en dit kan lelik sweer. Uiteindelik kan dit jou hele liggaam negatief beinvloed. Dit werk presies net so met die seerplek op jou hart. As jy dit net gaan los, gaan dit nie gesond raak nie. Nee, dit gaan erger sweer en jou hele menswees negatief beinvloed. So ‘n sweer loop altyd die gevaar om iewers onverwags oop te bars met baie negatiewe gevolge.

Naomi se verhaal lees jy van in die boek Rut. Doen jouself ‘n guns en lees die vier hoofstukke van Rut. Dis doodgewoon aangrypend. Naomi gaan saam met haar man en twee seuns na Moab nadat daar ‘n droogte in Bethlehem uitgebreek het. Haar man en twee seuns sterf en Naomi voel leeg en sit met intense emosionele pyn en seer. 

Sy maak egter geen geheim daarvan nie. Sy probeer dit vir niemand wegsteek nie. Sy is eerlik oor hoe sy voel en dat sy swak is na haar man en seuns se dood. Jy lees onder andere in Rut 1: 20-21:

…noem my Mara, want die Almagtige het die lewe vir my baie bitter gemaak. My lewe was vol toe ek hier weg is, maar die Here het my leeg laat terugkom.

Elkeen van ons kan leer by Naomi. Hou op om te dink dis die “korrekte” ding om te doen deur te kenne te gee dat dit altyd met jou goed gaan. Begin verstaan dat daar tye gaan wees in die wrede wêreld dat dit met jou gaan swaar en moeilik gaan. Niemand van ons is daaran gevrywaar nie. Die sondeval en sy gevolge maak ons almal seer. Naomi was ongenaakbaar eerlik. Weet jy wat, God is groot genoeg om dit te kan vat. Hy weet dit in elk geval.

Ten spyte van haar eerlikheid en die feit dat sy nie  alles verstaan het nie, het sy God nie gelos nie. Nee, sy het steeds aan Hom  vasgehou vir genesing. Die einde van die verhaal van Naomi is pragtig in Rut 4:  16 waar sy tevrede en gesond met haar kleinkind op haar skoot sit. God het haar  aangeraak en uiteindelik geseën. Sy is vol vreugde en blydskap. Ja, soos ‘n  vetgemaakte kalwer wat bokspring, staan geskryf in Maleagi.

Geskryf deur Johan Smith

Terug na bo