
Kom ons begin met ‘n eenvoudige vraag: wie lei jy? Kom ons antwoord met die eenvoudige antwoord: ANDER. Jy sien, as jy dit nie verstaan en werklik leef nie, laat jy ander ly met jou manier van lei. John Quincy Adams skryf so mooi en raak oor leierskap:
If your actions inspire others to dream more, learn more, do more and become more, you are a leader.
Sjoe, jy mag dalk voel dit is ‘n mondvol en lyk na harde werk. Jy is reg, dit is ‘n mondvol en dit is harde werk. As jy nie in jou opoffering ter wille van ander en hulle lewens werklik diep vreugde vind nie, bly dan liewer weg van leierskap. ‘n Goeie leier hef op, lig op, investeer in en moedig aan. Dis ‘n voortdurende gee van jouself wat dreinerend is en jou in alle opsigte baie moeg kan maak.
‘n Goeie leier dink aan die toekoms van die groep mense wie hy of sy lei en raak opgewonde oor elke stukkie leer, groei en vooruitgang wat jy in ander se lewens sien en ervaar. Die petrol in jou tenk, behalwe goeie selfbestuur, is om ander te sien blom. Die huppel in jou stap is om potensiaal van mense te sien wat besig is om jou verby te groei. Daar is geen bedreiging as iemand iets beter as jy doen nie. Nee, eerder opgewondenheid en dankbaarheid. Dis juis dit wat maak dat jy voel jy is besig om iets te bereik. Dit is wat maak dat jy as leier suksesvol kan voel. Dis wat maak dat jy vanaand lekker en tevrede kan gaan slaap.
Kom ons wees eerlik met mekaar: daar is vandag baie meer voorbeelde van selfgerigte, selfvoldane leierskap as die leierskap wat hier beskryf word. Leer om jou vreugde in ander mense se groei te vind. Leer om jou bydrae in die samelewing hoog te ag as dit kom by die opheffing en verbetering van iemand anders. Die samelewing waarin ek en jy leef, se waardestelsel is windskeef en selfgerig. Leef jy anders en wees ‘n ware leier.
Die bekende John Maxwell beklemtoon die beginsel ook baie sterk as hy dit net op ‘n ander manier stel:
Leaders become great, not because of their power, but because of their ability to empower others.
Geskryf deur Johan Smith