
Nog ’n eienskap wat God in ons lewens wil sien, is nederigheid. Om nederig te wees, maak my meer soos Jesus, en dit is wie ek moet word.
Nederigheid is ’n belangrike deug in ’n Christen se lewe. Om ander se belange bo jou eie te stel, vereis nederigheid, liefde en harmonie. Die teenoorgestelde van nederigheid is trots. Dit is wanneer jy dink jy is beter as ander en altyd jou sin wil hê. Wanneer iemand Bybelse nederigheid uitleef, het hy of sy God se onvoorwaardelike liefde ontvang. Ander word dan belangriker as die self.
Jesus is ons voorbeeld van nederigheid. Hy kon op ’n wit perd, met ’n groot gevolg en fanfare, die wêreld binnegekom het. Maar Hy kom na ons as ’n babatjie wat in ’n stal vir arm ouers gebore word. ’n Donkie is die rydier waarmee Hy Jerusalem binnegaan. Dit is nederigheid! (Sien Matteus 1 en 2.) Teen die einde van Jesus se tyd op aarde wou Hy die belangrikheid van nederigheid aan Sy dissipels beklemtoon. Hy doen dit op ’n besondere manier in Johannes 13:1-17, toe Hy Sy dissipels se voete gewas het. Dan volg Sy opdrag aan jou en my: ons moet dieselfde teenoor ander gaan doen en uitleef. Trek jou voorskoot aan en gaan was vuil voete.
Paulus gebruik Jesus ook as sy rolmodel wanneer hy aan die Filippense skryf en hulle beveel om nederigheid te beoefen. In Filippense 2:3 sê Paulus: “Moet niks uit selfsug doen of om daarmee te spog nie. Wees eerder nederig deur meer van medegelowiges te dink as van jouself.”
Kies om altyd ander bo jouself te stel!
Geskryf deur Hendrik Nel