
In vandag se besige en veeleisende wêreld ervaar kinders baie druk. Skool, vriendskappe, sosiale media, verwagtinge en talle buitemuurse aktiwiteite kan hulle oorweldig en uitgeput laat voel. As Christenouers het ons die geleentheid om ons huis ’n toevlug en veilige hawe te maak waar ons kinders vrede, warmte, aanvaarding en liefde kan ervaar.
Sien jou kinders uit na die warm atmosfeer tuis wanneer hulle in die middag ná skool die voordeur oopmaak? Weet hulle dat hulle nou ’n plek binnegaan waar hulle waardeer word en waar daar na hulle geluister word? ’n Christenhuis behoort ’n plek te wees waar daar oorvloedige genade is en waar foute met leiding eerder as met harde veroordeling hanteer word.
Elke gesin ervaar soms konflik. Dit is egter baie belangrik hoe die konflik hanteer word. Jakobus 1:19 gee vir ons raad in hierdie verband: Julle moet ander mense ’n kans gee om te sê wat hulle op die hart het. Luister rustig na hulle sonder om hulle te wil doodpraat. Wanneer daar konflik is, moet ouers met nederigheid en respek kommunikeer en vergifnis betoon. As kinders sien dat ouers eerder versoening nastreef as om argumente te wen, leer hulle van die mooiheid van Christelike verhoudings.
Sommige gesinne staar bykomende uitdagings in die gesig. Dalk dien een van die ouers nie die Here nie, en dit kan die geestelike atmosfeer in die huis ontwrig. In sulke gevalle speel die gelowige ouer ’n belangrike rol. Moenie met kritiek of frustrasie reageer nie. Wees eerder die gom wat die gesin deur geduld, gebed, sagmoedigheid en liefde bymekaar hou.
As jou wederhelfte soms vir lang tye weens werk van die huis afwesig is, dra jy outomaties ’n swaarder las. Vra God vir wysheid, krag en die vermoë om hierdie groot taak te hanteer. ’n Stabiele, liefdevolle atmosfeer kan steeds floreer as Jesus die middelpunt van die huis is.
Die belangrikste is dat ouers daagliks vir hulle gesinne en huise moet bid. Bid dat God se vrede elke vertrek sal vul, vir die beskerming van jou kinders en vir wysheid in hulle opvoeding. ’n Christenhuis wat vol vrede is, word nie net deur menslike moeite opgebou nie, maar deur God se teenwoordigheid. Wanneer Jesus elke dag in ons huis verwelkom word, verander Hy dit in ’n plek van toevlug met ’n atmosfeer waarin kinders kan floreer.
“Die beste versiering vir ’n huis is ’n atmosfeer van vrede.” (Anoniem)
Geskryf deur Helena Smith