
Die oorheersende eienskap wat in ons lewens sigbaar moet wees, is liefde: liefde met jou hart, hande en woorde. Liefde in my lewe sal my meer soos Jesus maak, en dit is wie ek wil word. Dink aan die woorde van die bekende lied: “God is liefde, juig ons harte.”
In 1 Johannes 4:11-12 word dit baie duidelik uitgespel: “Dit is die ware liefde: nie dat ons vir God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en Sy Seun as offer gestuur het om ons sondes weg te neem. Geliefdes, as God ons dan so tot die uiterste liefgehad het, moet ons ook mekaar tot die uiterste toe liefhê.”
Die groot maar eenvoudige idee agter al die verhale en lesse in die Bybel is liefde. Sien die Bybel altyd as God se liefdesbrief aan Sy kinders. Liefde oorheers God se verhaal in die Bybel. 1 Korintiërs 13 gee vir ons ’n baie goeie beskrywing van die liefde wat dwarsdeur die Bybel voorkom. Liefde is die belangrikste opdrag en kom reeds vroeg in God se verhouding met Sy volk na vore.
Net voordat die Israeliete die beloofde land binnegaan, herinner Moses hulle waaroor dit werklik gaan. In Deuteronomium 4 word beskryf hoe Moses God se volk maan om gehoorsaam te wees aan God se wet. Dit bevat ’n gedeelte wat as die Shema bekendstaan, wat later die Joodse geloofsbelydenis sou word en tydens oggend- en aandgebedsdienste opgesê is. Dit beskryf die liefde tussen God en Sy volk as die dryfveer agter ’n lewe van geloof. Liefde vir God, en daaruit voortvloeiend liefde vir mense, is waaroor die lewe gaan.
Saam met die prioriteit om God altyd met ons hele hart, siel en verstand lief te hê, is daar die opdrag om ons naaste net so lief te hê soos onsself (Levitikus 19:18). In ’n gesprek met godsdienstige leiers in die Nuwe Testament bevestig Jesus hierdie twee Ou-Testamentiese opdragte—liefde vir God en liefde vir ons naaste—as die grootste van alle opdragte (Markus 12:28-31). Dieselfde beginsels geld steeds en bly vandag die belangrikste opdrag en uitdaging vir ons.
Geskryf deur Hendrik Nel