
In Johannes 15:5 vergelyk Jesus die Christelike lewe met ’n druiwestok: “Ek is die druiwestok, julle is die lote. Wie aan My verbonde bly en Ek aan hulle, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie.” As ons aan Jesus verbonde bly, sal ons mettertyd heerlike vrugte dra vir almal om te sien. Om ryp en smaaklike vrugte te dra waarvan mense hou, moet ons naby Jesus leef. Maar om meer soos Jesus te word, is ’n reis en neem tyd. Hoe langer ons naby Jesus bly, hoe beter word die lewe.
In hierdie proses om soos Jesus te dink en op te tree, is ons nie alleen nie. God die Vader is die tuinier wat die grond losmaak, water gee, seker maak dat ons genoeg blootstelling aan die son kry en ons snoei waar nodig. Soos God Sy werk doen en ons naby Jesus bly, verskyn daar bloeisels en vrugknoppies aan die punte van ons takke. Mettertyd groei die vrugte en word dit ryp. Die vrugte wat ons dra, is ’n bewys van hoe gesond ons takke aan die binnekant is. Daardeur is ons ’n getuienis vir die mense wat God in ons lewens plaas, en word hulle deur ons getuienis aangetrek. Dit maak God bly wanneer ons die liefde wat Hy eerste aan ons bewys het, uitleef.
In die volgende paar stukke verduidelik ons die sleuteldeugde of eienskappe wat God in ons lewens wil sien. Terwyl jy dit lees, sê saggies: “Dit is wie ek graag wil word.” En met God se hulp sal jy! Paulus sê nie verniet in Filippense 4:13 nie: “Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.”
Geniet die reis oor die volgende paar weke!
Geskryf deur Hendrik Nel
’N SPLINTERNUWE BOEK VIR ELKE OUER! 📚
Ouerskap vandag is nie maklik nie. Die wêreld verander voortdurend en die uitdagings word al hoe groter, maar kinders sal altyd hulle ouers se liefde, leiding en teenwoordigheid nodig hê.
In sy nuwe boek, Ouerskap: 10 Bybelse riglyne vir ’n gelukkige en gesonde gesin, deel Johan Smith praktiese en toepaslike riglyne om ouers met hierdie belangrike taak te help.
Die boek behandel onder andere dissipline, kommunikasie, konflik, tyd saam, tegnologie en hoe om jou kinders van God te leer.
Dit is ’n waardevolle hulpmiddel wat werklik hande en voete aan ouerskap gee en ouers help om ’n veilige omgewing te skep waarin kinders kan floreer, God leer ken en vir die toekoms voorberei word.
Ons moedig ook skoolhoofde en onderwysers aan om hierdie boek by die ouers van hulle skole aan te beveel. Wanneer ouers en skole saamwerk, help ons om sterker gesinne en ’n gesonder volgende generasie te bou.