
In Markus 5 lees ons ’n pragtige verhaaltjie wat God se persoonlike belangstelling in jou demonstreer. Hier word Jesus gekonfronteer met ’n man wat duiwelbesete is. Hy het ’n bose gees in hom gehad. Dis ’n baie wilde man wat al uit hand- en voetboeie losgebreek het. Toe hy met Jesus gekonfronteer word, gebeur iets wat die man glad nie verwag nie. Ons lees in vers 9:
Hy het hom toe gevra: “Wat is jou naam?”
Jesus gee so om vir die man dat Hy alles verder ignoreer en die man sy naam vra. Jesus stel belang in die man. Hy het die man lief. Ja, Hy dryf die bose gees uit, maar is steeds besorg oor die man. Leer daaruit: God stel persoonlik in jou belang!
As jy kyk na al die liggaamsdele aan jou lyf, sal jy agterkom dat die appel van jou oog die heel sensitiefste uiterlike gedeelte van jou liggaam is. Probeer om vinnig met jou vinger nader aan jou oogappel te beweeg. Wat gebeur? Ja, jou ooglede gaan outomaties toe om jou oogappel te beskerm. Dis ’n kosbare en belangrike gedeelte van jou liggaam. Daarom word dit deur die ooglede beskerm. Dis presies wat God oor jou sê in Deuteronomium 32:10:
Die Here het sy volk omhels, hom vertroetel en versorg soos die appel van sy oog.
Jy is God se oogappel! Sit nou eers ’n bietjie stil en maak dit jou eie. God vergelyk jou met die appel van ’n oog. Jy is vir Hom so belangrik dat Hy jou só sal beskerm en versorg. Dis die mate waarin God persoonlik in jou belangstel.
Dalk is jy, soos die meeste mense vandag, so besig en gejaagd en ook in ’n drukgang om te presteer dat jy nie net kan stilsit en God as jou Vader kan ervaar nie. Dalk is dit nodig dat jy net weer kind word en die liefde van God onvoorwaardelik ervaar en aanvaar. ’n Seuntjie van agt skryf oor God:
If you don’t believe in God, besides being an atheist, you will be very lonely, because your parents can’t go everywhere with you, like to camp, but God can. It is good to know He is around you when you are scared in the dark or when you can’t swim very good and you get thrown into real deep water by big kids.
Geskryf deur Johan Smith