VitaAmp

Prestasiehasie vs. die goue kind

“Favoritism is the sin of society. You show bias for one, pulling down efforts of many.” – Chitra

Een woordjie, een besluit, een daad, een toekenning … om die verkeerde redes = onmeetbare skade. In ’n prestasiegedrewe wêreld waar daar van jongs af onderskeid getref word tussen presteerders en niepresteerders (volgens wêreldse standaarde), sou ’n mens verwag dat gegradueerde prestasiebeoordelaars integriteit, regverdigheid en objektiwiteit boaan hul lys van karaktereienskappe sou hê.

Is dit te veel gevra? Te vergesog om gesag korrek aan te wend? Te moeilik om persoonlike voorkeure opsy te skuif en die feite in die oë te staar? Of is dit die krag van mag – om te maak en te breek ten koste van ander?

Blatante oneerlikheid en onregverdigheid ten aanskoue van die skare – alles vir die “goue kind”, wat dikwels onverdiend voorgetrek word. Dit kom teen ’n duur prys.

Dit is ’n strooptog. Laag vir laag word die “goue kind” van karaktervorming gestroop. Hy kry wat hom nie toekom nie. Die ware stand van sake word toegepleister. Jy hoef nie harder te werk of jouself op die sportveld te gedra nie. Die toekenning is joune – ongeag. Dit is ’n leuen. Jy lieg ook vir jouself.

Die “prestasiehasie”, wat werklik die toekenning en erkenning verdien, word stukkie vir stukkie gebreek. Kinders is nie dom nie! Hulle weet wat die waarheid is. Hoekom moet sterk kinders terugstaan sodat ’n magspersoon sy of haar wil kan laat geskied? Gee erkenning waar dit werklik toekom. Wat verg dit van “Mnr. en Mev. Mag” om groter as hul ego te wees en die regte ding te doen?

Deur ’n kind te ontneem van wat hom of haar toekom, kweek jy disrespek, ongeloofwaardigheid en wantroue. Waarom verbaas wees as ’n kind daarvolgens optree? Moet asseblief nie prestasie hieruit verwag nie.

Jakobus 2:1 waarsku nie verniet teen hierdie soort optrede nie. Ons moet bou, nie breek nie.

Die lewe is nie regverdig nie. Wat is jou aandeel hieraan?

Geskryf deur Annemarie Smit

Terug na bo