VitaAmp

Vertrou God vir elke tree op jou lewenspad

Die mens is baie broos en twyfel so maklik. Gelukkig verstaan God dit en vergewe Hy ons ons kleingelowigheid. Ja, Hy het ons gemaak en is genadig met ons. Gereeld voel jy dalk dat die Here net so in breë trekke in jou lewe belangstel, maar wat van die detail. Kan jy God vertrou vir daardie een belangrike toets of eksamen wat jy skryf? Kan jy Hom vertrou om ‘n verhouding wat vir jou belangrik is, te kom herstel? Is God regtig ook daar en beskikbaar om jou in die klein dingetjies te help? Matteus 10: 30 gee vir jou ‘n wonderlike waarheid:

Van julle is selfs die hare op julle kop almal getel.

Sjoe, dit is darem fyn detail. Daar is duisende hare op een mens se kop. Om nie eers te praat van miljoene mense se koppe nie! Maar God is in die fynste detail betrokke by elke mens en wil deel daarvan wees ook in jou lewe. Daarom gebruik die Woord die beeld van hare op jou kop. Jy hoef nie te wonder nie, jy hoef nie te twyfel nie: God is altyd daar om jou te help!

Die bekende Corrie ten Boom, wat baie lank swaar gely het tydens die Tweede Wêreldoorlog in ‘n Nazi konsentrasiekamp, het die volgende oor bekommernis gesê:

Vandag se bekommernis doen niks om more se probleme minder te maak nie; dit beroof ons net van die krag wat ons vandag kon gehad het. Kommer help ons tog nie om aan dit wat ons vrees, te ontsnap nie. Dit maak ons net te swak om dit te hanteer as dit kom. Kommer is die rente wat ‘n mens betaal op probleme voor dit nog opdaag.

In die woorde is ‘n baie belangrike beginsel opgesluit. Die negatiewe emosie van verward en bekommerd wees omdat jy glo God is nie daar om jou te help nie, verswak ‘n mens. Ja, dit steel jou krag. Dit maak jou weerloos teen verdere aanslae van die duiwel. Jy is ‘n broos teiken wat al hoe broser raak om verdere leuens van die duiwel te glo. Dit alles terwyl die waarheid in Matteus 6: 26 opgesluit lê:

Kyk na die wilde voëls: hulle saai nie en hulle oes nie en hulle maak nie in skure bymekaar nie; julle hemelse Vader sorg vir hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie?

Soren Kierkegaard sê die volgende treffende en waar woorde:

Life must be lived forward; it can only be understood backwards.

Dis hoekom geloof en vertroue so belangrik is: ek en jy moet nou aan dinge vashou en onverbiddellik glo en God vertrou al kan ons nog niks sien nie. Al lyk dinge donker nag, jy weet God se lig is daar. Al voel dit niemand is daar wat jou hoor en kan help nie, weet jy God is daar en Hy gaan help.

Geskryf deur Johan Smith

Terug na bo