VitaAmp

Wanneer jou hart huis toe verlang…

Verlede week het ons stil geraak by die wonder van genade. By die kruis. By die leë graf. By die waarheid dat Jesus leef en dat ons nuwe lewe ontvang het.

Miskien bring daardie nuwe lewe ook iets anders na vore… ’n verlange.

Want iets begin verander wanneer ons regtig die opstanding verstaan. Nie net hoe ons leef nie, maar ook waarna ons verlang. Dis asof daar iets in ons harte wakker word, ’n stille, diep verlange wat hierdie wêreld nie heeltemal kan vul nie.

Die Bybel sê:
“Hy het ook die ewigheid in die mens se hart gelê…” (Prediker 3:11)

Daar is iets binne ons wat weet… daar is meer.
Meer as hierdie wêreld. Meer as wat ons sien. Meer as wat ons nou ervaar.

Soos Phil Wickham sing, daar is “an ache in my heart… I’m homesick for Heaven.”

Miskien is dit nie net ’n gevoel nie. Miskien is dit ’n herinnering.
Dat hierdie nie ons finale tuiste is nie.
Dat ons gemaak is vir iets groter.

Jesus sê:
“In die huis van my Vader is daar baie woonplek… Ek gaan om vir julle plek gereed te maak.” (Johannes 14:2)

Ons leef nie net met ’n nuwe begin nie. Ons leef met ’n bestemming.
’n Belofte.
’n Tuiste.

En dalk is daardie verlange in jou hart nie iets wat jy moet stilmaak nie… maar iets waarna jy moet luister.

Want dit herinner jou:
jy is oppad.
jy is nie alleen nie.
en hierdie is nie die einde van die storie nie.

So terwyl ons hier leef, leef ons met hoop.
Ons hou vas wanneer dit moeilik raak.
Ons vertrou wanneer ons nie alles verstaan nie.

Want ons weet…
daar kom ’n dag waar alles nuut gemaak sal word.

“Hy sal elke traan van hulle oë afdroog… die dood sal daar nie meer wees nie…” (Openbaring 21:4)

Tot dan leef ons getrou.
Ons leef met oë wat verder kyk as net die nou.
Ons leef met harte wat onthou waar ons werklik tuis is.

Want daar is ’n verlange in ons…
en dit wys ons die pad huis toe.

Geskryf deur Mieke

Luister gerus saam:

Terug na bo