VitaAmp

Dit Is Werklik Genade

Ons het saam gestap. Ons het stil geraak by Goeie Vrydag en weer besef wat dit Jesus gekos het, die pyn, die offer, die liefde wat Hom daar gehou het. Ons het die gewig van die kruis gevoel, dalk opnuut geraak deur die waarheid dat Hy dit alles vir ons gedoen het. En toe het Sondag gekom, Paasfees. ’n Dag van lewe, hoop en oorwinning. Die graf is leeg. Jesus leef.

En miskien is dit waar ons net vir ’n oomblik moet stilbly…

Want dit is werklik genade.

Nie iets wat ons verdien het nie.
Nie iets wat ons kan verdien nie.
Maar iets wat vrylik gegee is.

Want Paasfees herinner ons nie net aan wat gebeur het nie. Dit herinner ons aan hoekom dit gebeur het. Liefde. Onverdiende, oorvloedige genade.

Soos Paulus skryf,
“As julle dan saam met Christus opgewek is, soek die dinge daarbo, waar Christus is…” (Kolossense 3:1)

Jesus het nie net gesterf om ons te red nie, Hy het opgestaan om ons ’n nuwe lewe te gee. Nie ’n lewe wat ons self moet probeer regkry nie, maar ’n lewe wat uit genade vloei. ’n Lewe waar ons nie hoef te bewys nie, maar mag ontvang. Waar ons nie hoef te verdien nie, maar mag rus.

“Hy het ons opnuut laat gebore word tot ’n lewende hoop deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood.” (1 Petrus 1:3)

Dit is genade…
dat die graf leeg is.
dat die dood oorwin is.
dat ons nie meer dieselfde hoef te bly nie.

Dit is genade…
dat Hy jou ken, en jou steeds kies.
dat Hy jou sien, en jou steeds liefhet.

Soos C. S. Lewis sê,
“Grace is Christianity’s best idea.”

En dalk is dit al wat ons hierdie week hoef te onthou…

Dit is werklik genade.

“Ek leef, en julle sal ook leef,” sê Jesus (Johannes 14:19).

Geskryf deur Mieke

Luister gerus saam:

Terug na bo