VitaAmp

“Reis” saam met jou kind

“Reis” saam met jou kind

Die wêreld waarin ouers vandag kinders opvoed en grootmaak, is verseker nie baie vriendelik en ontvanklik nie. Inteendeel, jy kan dit eerder beskryf as uitdagend en intimiderend. Elke ouer reageer anders op die uitdagende wêreld. Feite is dat jou kind met tye swaar gaan kry en ‘n bietjie pyn gaan ervaar.

Elke volwassene kan hoofstuk op hoofstuk in hulle eie lewensboek skryf oor teleurstellings, hartseer, pyn en uitdagings. Elke volwassene het klomp stories van hoe hy/sy geleer het om die dinge te hanteer. Jy het dus duur skoolgeld betaal om ‘n goeie leermester vir jou eie kind te kan wees. Maar nee, die meeste ouers kies om by die eerste bietjie pyn of teleurstelling in ‘n kind se lewe hulle te haas om te red en in te gryp. 

Min ouers besef dat hulle hulle kinders die aanleer van die vaardigheid van pyn-hantering ontneem. Min ouers besef dat elke kind moet besef en verstaan die lewe is onregverdig, die lewe is soms hard en ongenaakbaar en propvol teleurstellings. Daarom, is dit lewensbelangrik vir jou kind se totale ontwikkeling as mens om hierdie vaardighede aan te leer. Baie ouers vandag is egter total oorbeskermend en “red” hulle kind by elke geleentheid. Daar word doodgewoon te gou ingegryp en ander word doodgewoon te gou blameer.

Paulus in Romeine 5 verse 3 en 4 skryf oor ‘n baie interessante werklikheid van die lewe: slegs swaarkry kweek volharding…….volharding kweek weer egtheid van geloof……en egtheid van geloof kweek hoop. God se doel en plan met elke  mens is dat jou lewe uiteindelik ‘n storie van hoop vir iemand anders sal wees. Hoop egter is die uiteinde van swaarkry. Ek is oortuig jy het dit al aan jou eie lyf gevoel.

Dus, hier is die uitdaging vir elke ouer: nie om jou kind swaarkry te spaar nie. Nee, veel eerder om jou kind te begelei deur swaarkry en vir jou kind om dit te kan hanteer. Dan voeg jy waarde toe tot jou kind se lewe. Jy doen nie jou kind ‘n guns deur jou kind by elke geleentheid te “red” van swaarkry nie! Nee, jy ontneem jou kind die geleentheid om te groei tot ‘n baken van hoop.

Liewe ouer, maak dit tyd om saam met jou kind te reis. Reis saam met hulle deur die onregverdigheid en sleg van die lewe. Leer hulle om die swaarkry en terugslae te hanteer. Wees daar en ondersteun, maar jy is nie Redding Internasionaal of 911 in jou kind se lewe nie. Jy kan en mag nie jou kind sonder die vaardighede die lewe instuur nie. Jy doen jou kind geen guns nie. Ek weet dis nie lekker om jou kind te sien swaarkry nie, maar dink langtermyn oor jou kind se toekoms.

(Uiteraard is daar ‘n verskil tussen “pyn”en “beskadig”. Ken jou kind egter goed genoeg om te kan onderskei. Weet egter verseker: alle “pyn” beskadig nie jou kind nie. Inteendeel, dit kan bydra tot enorme groei in jou kind se lewe)

Geskryf deur Johan Smith

Terug na bo