VitaAmp

Ontdek God se Liefde en Genade vir Jou

Martin Luther is in Duitsland gebore. Sy ouers het hom streng in die Katolieke tradisie grootgemaak. As 21 jarige jong man het ‘n weerligstraal hom teen die grond neer geslaan. Hy het dit oorleef en dit as ‘n teken gesien dat God hom as priester roep. Luther het geleer om God aan die hand van die baie streng kloosterreëls te dien. 

Luther het dag na dag probeer om God se guns te wen deur onder andere te vas en te bid. Hy het selfs so ver gegaan om sommige nagte in die winter sonder komberse te slaap, want hy wou sy liggaam vry maak van wêreldse begeertes. Hy was egter nooit tevrede met sy pogings nie en God se eise was net te hoog vir hom. Hy moes net elke dag harder en harder probeer om God se guns te wen en God tevrede te stel.

Luther het desperaat na Rome gegaan, die stad wat in daardie tyd beskou is as die heiligste stad op aarde. Daar was Luther verder ontnugter deur priesters wat liefdeloos opgetree het teenoor mense asook stories van immoraliteit onder die kerkleierskap. Later het Luther ‘n professor geword aan ‘n universiteit in Wittenberg. Hy was steeds baie toegewyd aan God en het elke dag vir ure sy skuld en sondes bely.

(Hoor al sy pogings!….en in die proses mis hy genade. Baie hartseer).

Luther het egter stadig maar seker ontdek dat God hom liefhet en dat God wil hê hy, Martin, moet God liefhê. Hy het al hoe meer begin ontdek hoe lief Jesus ons gehad het. Hy het ontdek dat Jesus medelye met ons swakhede het en ons nie net wil oordeel en verwerp nie. Hy het ontdek dat geloof al is wat hy God kan bied in antwoord op dit wat God verniet en onverdiend vir hom gedoen het. 

Luther het baie drasties opgetree met sy ontdekkings uit God se Woord. Hy het besef die kerk maak geld uit die arme mense deur vergifnisbriewe aan hulle te verkoop. Daarom het hy sy ontdekkings van genade op die deure van die kerk in Wittenberg gaan vasspyker. Die kerk het geëis dat Luther sy standpunt terugtrek. Hy het egter geweier en moes vlug vir sy lewe. God se gratis, onverdiende genade was waarvoor Martin Luther geleef het.

John Stott het die volgende gesê: 

God se genade is bereid om af te buk en die op te tel wat nie in staat is om self op te klim nie. En dit… is ons almal!

Het jy al werklik genade ontdek? Of probeer jy ook nog kliphard elke dag?

Geskryf deur Johan Smith

Terug na bo