VitaAmp

Raak vir my rustig

Die taal van ons tyd is spoed. Die taal van ons tyd is vinnig. Die taal van ons tyd is haastig en jaag. Soveel mense praat die taal. Soveel ouers en kinders, en daarom gesinne, praat die taal hard en duidelik en is daarom besig om al hoe verder van mekaar te dryf. Jonk en oud is al hoe meer besig om verslaaf te raak aan vinnig, haastig en spoed. Dit plaas geweldige druk op die reeds baie broos verhoudings wat ons in gesinne kry vandag.

Baie ouers verkeer onder die indruk dat hulle juis ter wille van hulle kinders besiger moet wees, harder moet werk en meer moet doen. Dis ’n absolute illusie. Jou kind soek meer van jou, nie meer van jou besig wees nie. Jou kind soek meer van jou menswees en minder van jou geld en besittings. Jou kind verlang na jou.

Die statistieke oor ontspanning is skokkend. In die VSA is daar reeds meer as 14 persent van die bevolking wat sê dat hulle geen tyd kry om te rus of ontspan nie. 40 persent sê dat hulle baie min tyd het vir ontspan. 65 persent van werkende ma’s is desperaat oor te min of geen tyd vir ontspan, terwyl 55 persent van werkende pa’s reeds in dié kategorie val. Ontspanning raak ’n luukse, en wie ly daaronder? Uiteraard die mens van vandag se verhoudingslewe, beginnende by huweliksmaats en gesinsverhoudings. Ons skeep mekaar af. Dis dalk nodig dat iemand dit hard, reguit en eerlik sê: dis nie goed nie. Dit beskadig jou en die mense rondom jou.

In die baie gejaagde en kompeterende kultuur waarin ons vandag leef, is die dinge wat afgeskeep word dinge soos om as gesin saam te eet, om te kuier om ’n braaivleisvuur, om vir naweke saam weg te gaan of om kwaliteit vakansies saam te hê. Waar is die sogenaamde “connected” waarvan almal praat? Dis uit by die agterdeur. Dit verdwyn soos mis voor die son as gevolg van vinnig, jaag en kompeteer.

… en dit terwyl al die navorsing vandag daarop dui dat almal in ’n gesin — pa, ma en kinders (en die hond en die kat ook, voeg ek sommer by) — smag na dieper, innige verhoudings. Daarom … raak vir my rustig.

Geskryf deur Johan Smith

Terug na bo