VitaAmp

’n Heilige lewe, sonde en vergifnis

In 2 Timoteus 2:20 en 21 staan:

In ’n groot huis is daar nie alleen voorwerpe van goud en silwer nie, maar ook van hout en klei. Sommige is vir besondere gebruik en ander vir die alledaagse. As iemand hom van die kwaad gereinig het, sal hy ’n voorwerp vir besondere gebruik wees. Dan sal hy vir die eienaar afgesonder en bruikbaar wees, voorberei vir enige goeie diens.

In Jakobus 1:27 staan:

Egte en suiwer godsdiens voor God die Vader is om weeskinders en weduwees in hulle moeilike omstandighede by te staan en om jou skoon te hou van die besmetting van die wêreld.

Om jou te weerhou van sonde en die besmetting van die wêreld word beskou as egte en suiwer godsdiens. Die weerstaan van versoekings is dus belangrik in God se oë. Die Here het ook nie tien stelle reëls waaraan sy kinders moet voldoen om instrumente vir besondere gebruik te wees nie. Nee, al wat God vra, is dat jy jou van die kwaad reinig. Met ander woorde, bly weg van sonde en vlug vir versoekings. Dis binne elke gewone mens se bereik om afgesonder te wees vir God vir uitgesoekte, spesiale take in sy koninkryk. Die uitdaging vir jou is om te kies om uitsonderlik te wees en ’n spesiale instrument in God se hand te wees. Daarom, bly weg van sonde.

Jy hoef nooit te ver te soek vir versoekings nie. Nee, jy hoef maar net binne in julle huis die televisie aan te sit of op jou foon se skerm te loer, en die kans is goed dat daar een of ander vorm van seks of geweld sal wees. As jy jou neus by die deur uitsteek, moet jy weet loop jy nog groter gevaar om nog meer en intenser versoekings tee te kom. Versoekings is om elke hoek en draai, en almal word elke dag daaraan blootgestel.

Baie mense dink sonde is nie so gevaarlik nie. Moenie ’n dwaas wees en vir die leuen val nie. Hanteer sonde asof dit lewensgevaarlik is, want dit is.

Geskryf deur Johan Smith

Terug na bo