
My ouers was nie welaf nie. Toe my ouers oorlede is, het ek, as enigste kind, baie min geld en besittings geërf. Ek het egter ’n skatryk nalatenskap van my ouers ontvang: hulle het altyd liefde en omgee vir ander uitgeleef, hulle het die Here blindelings vertrou en vir my ’n daadgeloof met die Here gedemonstreer.
As ons die woord erfporsie hoor, dink ons aan materiële dinge soos eiendom, juwele en geld. As ons egter daaraan dink uit ’n Christelike perspektief, is dit veel dieper. Dan gaan dit nie oor wat ons vir ons kinders nagelaat het nie, maar wat ons in hul lewens nagelaat het.
In Spreuke 22:6 lees ons: “Leer ’n kind vroeg hoe om te leef en hy sal tot sy oudag nog reg leef.” Hierdie opvoeding gebeur nie in formele lesse Sondae by die kinderkerk nie. Dit gebeur in die daaglikse lewe, om die etenstafel, tydens gebede voor slaaptyd, in die manier hoe ons met mekaar praat en ook in die manier hoe ons optree as dinge nie volgens plan verloop nie. Ons bly die kinders se primêre dissipelmakers. Dit is iets wat ons nie kan uitkontrakteer nie.
Ouers en grootouers is die eerste voorbeeld wat kinders sien van hoe geloof uitgeleef word. Hulle moet sien dat ons ons wend tot gebed in plaas van paniek, dat ons vergifnis kies bo verbittering en dat ons ons hoop op Jesus vestig. Só leer hulle lesse wat ’n mens in geen handboek kry nie.
Grootouers, julle speel ook ’n belangrike rol in julle kleinkinders se lewens. Julle gebede, aanmoediging en stille voorbeeld van standvastige geloof maak ’n diep indruk op julle kleinkinders.
Deesdae werk mense so hard om ’n gemaklike aftrede te verseker en om hulle kinders ’n finansiële hupstoot te gee deur ’n erfporsie. Op die ou end is die nalatenskap wat regtig tel, die ewige, onverganklike een. Dit word gereeld deur ouers vergeet. In Josua 24:15 lees ons: “Wat my en my gesin betref, ons het ons keuse klaar gemaak, ons gaan die Here dien.” As ons ons kinders en kleinkinders in woord en daad na die Here lei, belê ons in iets wat hierdie lewe oorleef en in die ewigheid voortduur. So leer ons ons kinders om vir hulle hemelse skatte bymekaar te maak.
Geskryf deur Helena Smith