VitaAmp

Ken jou mense en leef naby hulle

Een van die strategiese foute wat leiers vandag maak, is om afstand te skep tussen hulself en die mense wat hulle veronderstel is om te lei.

Dit is maklik om so besig te raak met verantwoordelikhede, vergaderings, doelwitte en sperdatums dat ons vergeet om werklik naby mense te leef. Ons begin besluite neem sonder om hul wêreld te verstaan. Ons praat oor mense, maar nie noodwendig mét hulle nie.

’n Leier leef naby mense om hul probleme te leer ken.
’n Leier leef naby God om oplossings daarvoor te vind.

Wanneer Jesus mense bedien het, het Hy nie op ’n afstand gebly nie. Hy het tussen mense beweeg. Hy het geluister. Hy het raakgesien. Hy het stilgestaan by diegene wat maklik misgekyk is. Hy het mense se harte geken, omdat Hy bereid was om naby hulle te leef.

Die uitnodiging van Jesus is eenvoudig:

“Nader aan My en nader aan ander!”

Leierskap gaan nie net oor visie, strategie en rigting nie. Dit gaan ook oor teenwoordigheid. Dit gaan daaroor om beskikbaar te wees. Om werklik belang te stel. Om mense se stories te ken en hul uitdagings ernstig op te neem.

Leef met een oor op God se hart en die ander oor op die grond van jou werkplek.

Gee om vir mense. Stel belang in hulle. Luister na hul uitdagings, teleurstellings en probleme. Vier hul oorwinnings saam met hulle. Wees bewus van wat in hul lewens gebeur.

Jy kan nie mense effektief lei wanneer jy hulle nie werklik ken nie.

Ken jou mense.
Leef naby hulle.
En bly naby aan God.

Geskryf deur Johan Smith

Terug na bo