VitaAmp

Jy is ‘n mens, nie ‘n masjien nie

In die jaar kom ‘n man na my gestap en een van die eerste dinge waarmee hy by my spog, is dat hy die afgelope vyf jaar nie verlof gehad het nie. Ek het hom rustig geantwoord met min of meer die volgende woorde: “Selfs God het nodig gehad om te rus.” Dit lees ons in Genesis 2: 2: Op die sewende dag was God reeds klaar met die skeppingswerk en het Hy gerus na al die werk wat Hy gedoen het.

Vir een of ander rede dink mense vandag hulle is beter en sterker as God. Hulle voel dalk onmisbaar, of wil dalk onmisbaar voel. Geen skool of werk, so dink hulle, kan sonder hulle klaar kom nie. Hulle wil graag glo dat ‘n skool of werk se sukses van hulle afhang. Daarom rus hulle nooit nie. Hulle gaan egter een stap verder en neem heeltemal te veel verantwoordelikhede op hulle. Gevolglik is hulle ‘n tydbom wat uitputting en uitbranding aanbetref. Hulle vergeet dat alle mense dieselfde deur God gemaak is: ons het almal rus nodig. Almal is gemaak met beperkte krag en energie wat weer aangevul moet word na ‘n tyd van lank hard werk en jou alles gee.

Die bekende skrywer, Fil Anderson, in sy boek Running on Empty  beskryf die mens as ‘n vliegtuig wat opstyg van ‘n lughawe. Almal bewonder die pragtige en vinnige vliegtuig. Niemand weet daar is ernstige fout met die enjin nie en dat die vliegtuig vier ure later gaan neerstort nie. Dis hoe baie mense deur die lewe gaan: jaag, jaag, jaag. Almal bewonder hulle, maar diep binne is hulle uitgeput en uitgebrand – reg om ineen te stort. Jesus het dit duidelik gestel dat hy baie tyd met sy Vader moet deurbring in Lukas 2: 49(b): Het u nie geweet dat Ek in die huis van my Vader moet wees nie?

Die volgende gediggie wat deur iemand onbekend geskryf is , het baie waarhede in:

Maak tyd om te werk, dis die prys van voorspoed;

Maak tyd om te dink, dis die bron van krag;

Maak tyd om te speel, dis die geheim van ewige jeug;

Maak tyd om te lees, dis die grondslag van wysheid;

Maak tyd om vriendelik te wees, dis die weg tot geluk;

Maak tyd om te droom, dit koppel jou verwagtinge aan ‘n ster;

Maak tyd om waar te neem, die dag is te kort om selfsugtig te wees;

Maak tyd om te lag, dis die musiek van die siel.

Hier word ‘n klomp goed genoem wat ‘n mens laat diep dink: Maak tyd om te lag, maak tyd om te dink, maak tyd om te droom en maak tyd om te lees – om maar vier te noem. Wanneer laas het jy doelgerig daarvoor tyd gemaak? Is daar nie ‘n redelike ongebalanseerdheid in jou tydsbenutting nie – sodanig dat jy oppad is om uitgeput en uitgebrand te raak nie?

Geskryf deur Johan Smith

GROOT DANKIE!!!

Ons harte loop oor van dankbaarheid. Danksy elke bydrae, elke oproep, elke boodskap, elke deel en elke gebed kon ons genoeg fondse insamel om ’n nuwe voertuig vir VitaAmp aan te koop.

Die voertuig sal volgende week by ons aansluit, en ons kan nie wag om VitaAmp se wiele weer op die pad te sien nie!

Dankie aan elke persoon wat met soveel liefde en omgee uitgereik het. Julle het opnuut vir ons iets van God se hart gewys deur die ongelooflike hart van die VitaAmp-gemeenskap.

Die wiele is terug. Die missie ry voort.

Terug na bo