
Vrede in my lewe sal my meer soos Jesus maak, en dit is wie ek moet word. Ja, dit is makliker gesê as gedaan, want die wêreld waarin ek en jy leef, is selde vredevol.
Ons dink dikwels aan vrede as ’n “gevoel”. Dan wil ons ons angstigheid en depressie met vrede vervang. Bybelse vrede begin met ’n opregte verhouding met God en met ander mense. Vrede met God is slegs deur Jesus Christus moontlik. Reeds in die Ou Testament voorspel Jesaja in Jesaja 9:5 Jesus se koms na die aarde en die verrykende impak van Sy heerskappy, wat op vrede gegrond is: “Want ’n Kind is vir ons gebore, ’n Seun is aan ons gegee. Hy sal die heerser wees met die koninklike titels: Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors.” Hoewel Christus se lewe op aarde dikwels onstuimig was, het die feit dat Hy vir ons gesterf het dit vir ons moontlik gemaak om ’n lewe van vrede te ervaar.
Toe konflik tussen Abram en Lot ontstaan, het Abram die minste plek ingeneem en weggetrek. Hy het vrede in sy familie bo sy eie wense gestel (Genesis 13). Nog ’n voorbeeld van ’n lewe wat na vrede streef, is die lewe van Jesus. In die Bergpredikasie (Matteus 5) moedig Jesus ons aan om in vrede te leef. In vers 9 sê Hy: “Gelukkig is die vredemakers, want God sal vir hulle sê: Julle is My kinders.” Dit moet een van ons belangrikste doelwitte wees—selfs belangriker as om offerandes aan God te bring. Matteus 5:23-24 sê: “As jy dus jou offer na die altaar toe bring en dit val jou daar by dat jou medemens ’n grief teen jou koester, los jou offer net daar voor die altaar en gaan maak eers vrede met daardie persoon. Kom dan terug en bring jou offer.”
Die woord vrede (shalom) verwys in die Ou Testament na die heelheid en vrede wat ’n mens in God se teenwoordigheid ervaar, selfs in moeilike omstandighede. Bekommernis is een van die grootste vyande van vrede in ons lewens. Dit maak ons bedags gespanne en hou ons snags wakker. Ware vrede kom slegs van God en is heeltemal anders as die vrede wat die wêreld bied.
Strewe daarna om vry van bekommernis te wees deur in vrede met God, ander en myself te leef. Maak Filippense 4:6-7 jou lewensmotto: “Moet oor niks bekommerd wees nie, maar bid oor alles. Vra alles wat julle nodig het van God, terwyl julle Hom ook dank vir alles wat Hy doen. As julle so bid, sal julle God se vrede beleef. Hierdie vrede is wonderliker as wat ’n mens ooit kan dink. Omdat julle aan Christus behoort, sal die vrede van God julle harte en gedagtes soos ’n veiligheidswag oppas.”
Geskryf deur Hendrik Nel