
Ons het almal al die spreekwoord gebruik dat jy wag vir jou skip om te kom. Uiteraard het dit alles met geld en besittings te doen – daardie dag wat jy gaan voel jy het nou genoeg geld en jy kan sonder enige spanning oor jou finansies verder gaan met jou lewensreis. Hierdie “skip” veroorsaak dat mense geweldig jaag deur die lewe. Stressvlakke is uitermatig hoog en die druk wat jy en die sisteem op jouself plaas, is die meeste van die tyd ondraaglik. Geen wonder depressievlakke in ons pragtige land is so abnormaal hoog nie. Dit het alles met die “skip” te doen.
In die Bybel word van ‘n ander baie bekende “skip” gepraat, naamlik die ark. Dis die skip wat Noag gebou het om sy huisgesin te red. Dis die veilige hawe vir ‘n hele klomp diere, maar meer belangrik, vir Noag en sy huisgesin. Dis ‘n veilige hawe teen erge stormwaters. Dis ‘n veilige hawe waar jy kan wegkruip en skuil teen die storms van die lewe. Hier voel jy en jou gesin veilig. Dis ‘n goeie en lekker plek. Dis ‘n plek waar ons na mekaar luister, tyd maak vir mekaar en werklik omgee vir mekaar. Jou kind wil graag op so ‘n “skip” wees.
Die “skip” het min te doen met geld en besittings. Hierdie “skip” het alles te doen met liefde, verhoudings, sterk bande tussen ouers en kinders en ‘n veilige hawe waar jou kinders kan skuil teen die stormwaters van die lewe. Jy sien, as die skip afwesig is en jy bou nie doelgerig aan die skip nie, is wat oorbly, massa’s verswelgende stormwaters. Daar is of ‘n skip waar jy en jou kinders veilig voel, of stormwaters waarin jy en jou kinders verdrink. Dis ‘n feit dat baie van ons jongmense vandag geweldig dekadent lewe en swaar kry. Hulle het hierdie “skip” nodiger as ooit in die geskiedenis.
John West sê die volgende kragtige, waar woorde van die tyd waarin ons vandag leef:
Ever since sin entered the world, human beings have sought excuses for their behaviour, but materialism handed us an inexhaustible supply of excuses.
Die een skip het baie te doen met die jaag van geld en besittings. Die ander skip is die skip van verhoudings, die skip van ‘n gelukkige en gesonde gesin. Dis die skip wat vandag lewens red. Dis die skip wat ons jongmense desperaat na verlang en na uitroep.
Watter skip bou jy in jou huis?
Geskryf deur Johan Smith