VitaAmp

In tye van “hoekoms”en “waaroms”

God is baie groter as enige mens en daarom kan jy nie sy manier van doen altyd verstaan nie. Ja, jy kan en moet God ken, maar jy sal Hom nooit kan verstaan nie. ’n “Verborge” God? Het jy al ooit voorheen daarvan gehoor? Ja, jy weet God is almagtig, genadig, vol liefde, vergewe sonde en is die Skepper, maar “verborge”? Dit is duidelik dat die eienskap van God nie veel oor gepraat word nie. Dalk is mense versigtig om dit hardop te sê. Jy lees in Spreuke 25 vers 2 dat God se eer daarin lê dat Hy ‘n verborge God is.

Ek het een ding in die lewe geleer: daar gebeur baie dinge in jou lewe, en daar gaan nog baie dinge in jou lewe gebeur, wat jy nie gaan verstaan nie. Jy moet vashou aan wat jy weet van God in tye wanneer daar dinge gebeur waarop jy nie antwoorde kry nie. Weet altyd dat God liefde is. Weet, Hy sal jou nooit verlaat en in die steek laat nie. Weet Hy is Immanuel, God by jou. Hou vas aan die sekere wete dat God nooit vêr van jou af is nie, maar altyd baie naby – veral in tye van jou hoekoms en waaroms.

George Macdonald beskryf dit so mooi:

Tye van hartseer en swaarkry is maar net die skadu van God se vleuels.

Charles Spurgeon brei hierop uit:

So seker as wat God se kinders ook in die vuuroond beland,

net so seker is Hy daarbinne by hulle.

Die fout wat baie van ons maak, is om God gelyk te stel aan ons omstandighede. As dit met jou sleg of swaar gaan, dan is God liefdeloos en Een wat nie vir jou omgee nie. As dit goed gaan, is God goed en liefdevol. So, wie God vir jou is, ry wippplank afhangende van jou omstandighede. Dis ‘n groot fout wat baie mense maak. Dit is belangrik om te onthou dat God verhewe is bo jou omstandighede. God is wie Hy sê Hy is ongeag jou omstandighede. Jou omstandighede bepaal nie wie God is nie en ook nie hoe God is nie. Wie God is, ry nie wipplank en verander dag na dag afhangende van wat met jou gebeur nie.

Jy kan die volgende weet en daaraan vashou in jou heel beste tye en in jou heel swaarste tye:

  • God het jou reeds lief

  • God het jou steeds lief

  • God hou jou altyd vas

  • Hy dra jou aan sy bors

  • Hy is altyd by jou

  • Hy verander nie soos jou omstandighede verander nie.

Leef altyd vanuit die waarhede.

Geskryf deur Johan Smith

Ritme Leierskap kom Kaap toe!

Leierskap het ’n ritme en op 25 Maart slaan daardie ritme vas in die Kaap. Kom kuier en dink saam oor LEIERS wat DROOM by Vredelust Gemeente, saam met STEPHAN JOUBERT en JOHAN SMITH.

📍 Vredelust Gemeente, Boston, Kaapstad

🕘 09:00 – 13:00

Kaartjies beskikbaar op Computicket

As jy weer wil droom, en leer hoe om daardie drome met wysheid te lei, hier is jou oomblik! Die Kaap wag.

Terug na bo