VitaAmp

’n Bekende God in ’n Onbekende Jaar

’n Nuwe jaar lê voor ons.
Soos altyd bring dit ’n mengsel van verwagting en onsekerheid saam. Ons weet nie presies wat 2026 gaan bring nie, maar ons weet Wie saam met ons daarin instap.

Corrie ten Boom het gesê:
“Never be afraid to trust an unknown future to a known God.”

Daardie woorde herinner ons daaraan dat geloof nie beteken ons het al die antwoorde nie. Dit beteken ons ken die Een aan wie ons die vrae kan toevertrou. Ons toekoms is miskien onbekend, maar God is nie. Hy bly dieselfde, getrou, naby en betroubaar.

In Matteus 19:26 sê Jesus:
“By mense is dit onmoontlik, maar by God is alles moontlik.”

Ons begin elke nuwe jaar met planne, doelwitte en soms ook vrese. Party dinge voel te groot, te ingewikkeld of buite ons beheer. En dalk is dit ook. Maar dit is juis daar waar God se moontlikhede begin, waar ons eie krag ophou.

Wanneer ons God meer ruimte gee in ons lewens, wanneer ons Hom toelaat om ons te lei, te vorm en selfs uit te daag, gebeur iets besonders.
Ons raak nie minder onsself nie, maar meer.
God het ons gemaak. Hy weet wie ons werklik is. Hoe meer ons aan Hom oorgee, hoe nader beweeg ons aan die mens wat Hy nog altyd bedoel het ons moet wees.

2026 hoef nie perfek te begin nie.
Jy hoef nie alles reg te hê nie.
Jy hoef nie die hele pad te sien nie.

Dit is genoeg om te weet: God gaan saam.
En by Hom is selfs die onmoontlike nie die einde van die storie nie.

Mag hierdie nuwe jaar een wees waarin jy met oorgawe leef, met vertroue vorentoe stap en jou onbekende toekoms met rus in ’n bekende God se hande plaas.

Geskryf deur Mieke du Toit

Mag hierdie lied jou help om 2026 binne te stap met jou hande gelig en jou hart vol geloof. Nie omdat alles seker is nie, maar omdat God is:

Terug na bo