In my laerskooljare (eendag lank, lank gelede), was ek ‘n Voortrekker – ‘n beweging waar ek geleer het dat “’n Voortrekker se woord is sy eer.” Ek het nie daardie tyd naasteby verstaan wat dit beteken nie. Vandag weet ek al te goed omdat mense wie “se woord hulle eer is” baie skaars is. In kort is dit hoe ‘n mens integriteit kan definieer. Jy hou by jou woord, beloftes en ondernemings. Jy kan nie ‘n verwagting skep en dan, soos dit jou pas, dit nie nakom nie.
Integriteit het alles te doen met om te doen wat jy gesê het. Ja, jy kan iets onderneem en iets sê en jou omstandighede kan daarna drasties verander. Dis juis dan wat integriteit inskop. Dis dan wat jy bereid moet wees om op te offer en by jou woord te hou ten spyte van moeilike omstandighede. Dis waaraan ware vriende gemeet moet word: INTEGRITEIT.
Dag Hammarskjold het die volgende oor integriteit gesê:
Jy hoef nie groot en buitengewone prestasies te lewer om die respek van mense te wen nie. As jy iemand is wat absoluut vertrou kan word; as mense weet wanneer jy ‘n ding gesê het, dan is dit so; as dit bekend is dat jy die beloftes wat jy maak, uitvoer – kortom dat jy binne-in is wat jy na buite voorgee om te wees, dan sal jy meer mense verstom en beïndruk as baie van die eendagwonders wat die hoofberigte van die media haal.
Psalm 15: 2-3 beskryf integriteit baie raak:
Hy wat onberispelik wandel en doen wat reg is, wat met sy hele hart die waarheid praat, nie kwaad praat nie, sy medemens nie kwaad aandoen nie en niemand beledig nie.
Dit is ‘n baie raak beskrywing van iemand wat staan vir die waarheid en nooit sy rug op ‘n vriend sal draai nie, al het omstandighede verander en vra die vriendskap opoffering. Dis ‘n beskrywing van iemand wat nie iemand anders in die rug sal steek nie. Verseker is niemand perfek nie. Verseker maak ons almal foute en val ons dat ons tande klap, maar integriteit in jou lewe is die een ding waarvoor jy moet veg en iets wat jy met jou hele wese moet najaag en nastreef.
Commentaires