Ons leef nie in ‘n droomwêreld nie. Daarmee bedoel ek dat die wêreld waarin ek en jy elke dag opstaan en hard werk om ‘n verskil te maak, ver van volmaak of perfek is. Nee, daar is verseker negatiewe dinge wat elke dag gebeur. Lees die koerant of kyk na die nuus op televisie en ek hoef nie veel verder te sê nie.
Net so gebeur negatiewe dinge n jou eie lewe en ook by jou werksplek. Die kuns van goeie leierskap is egter om nie te veel aandag aan sekere negatiewe dinge, ek noem dit besoedeling, te gee nie. Sekere leiers sien dit as hulle taak om elke negatiewe ding uit te snuffel en dit hulle nommer een prioriteit elke dag te maak. Praat van ‘n vermorsing van tyd en energie wat lei tot laer effektiwiteit.
Die kuns wat goeie leiers bemeester het is om sekere besoedeling doodgewoon nie toe te laat in hulle lewe nie. Feite is egter dat jy wel sekere negatiewe dinge gaan moet hanteer. Kies die ware probleme en struikelblokke en leer die vernuf aan om dit effektief te hanteer. Leer om sekere negatiewe dinge na die regte persone te delegeer. Vra vir Moses, hy hoef nie elke struweling en konflik onder die volk te hanteer nie. Ander mense kon dit doen en hy kon fokus op geestelike leierskap.
Leer om bekommernis en vrees te hanteer. Die meeste van die tyd bekommer vandag se mens hom morsdood oor dinge wat nooit gaan gebeur nie. Hoor God se stem in tye van bekommernis en vrees. Iewers, op verskeie plekke in sy Woord, skryf Hy oor die “moenie” wat vrees en bekommernis aanbetref. Hy laat jou duidelik verstaan dat bekommernis jou lewe nie verleng of verbeter nie. Inteendeel, dit verswaar alles en verkort jou lewe (Matteus 6). Leiers moet weet dat hulle die emosies van vrees en bekommernis oordra na hulle span.
Leiers moet ook leer om dinge soos tegnologie reg en wys te gebruik. Media, ‘n wonderlike hulpmiddel, kan ook ‘n ernstige morser van tyd word en ‘n negatiewe invloed op die lewe van ‘n leier hê. Dit is ook algemeen bekend vandag dat die oorgebruik en misbruik van tegnologie lei tot geweldige verhoudingskade in huwelike ne gesinne. ‘n Leier moet dus sy tyd intensioneel op verhoudings instel en fokus en waak daarteen dat te veel tegnologie verhoudings in sy lewe beskadig nie. ‘n Leier wat opereer vanuit ‘n gelukkige huis met gesonde verhoudings daar, is enigeander leier net een tree voor in die lewe.
Die bekende Henry Cloud skryf:
New things that actually have hope for the future cannot appear until you get rid of what was taking up the space that the new things needs.
Raak ontslae van onnodige besoedeling in jou lewe en maak meer spasie vir die positiewe.
Comments