top of page
mieke9902

Pa en Ma, hou altyd aan probeer

Daar is soveel boeke geskryf oor goeie of die "regte" ouerskap. Daar is baie mense wat daaroor praat en jou probeer help (ek is een van hulle!). Dit kan jou motiveer om sekere dinge van nou af anders te doen. Ander kan sê: “Oulike boek, oulike praatjie, goeie inligting”, maar niks toepas wat hulle gelees of gehoor het nie. Sekere ouers kan egter ook skuldig voel omdat hulle al so baie foute gemaak het (ek en my vrou het ons gereeld in die posisie bevind - ek verstaan daardie emosie dus opreg).


Ouerskap is vir jare erg verwaarloos, net soos die huwelik. Met die huwelik het die dominee of pastoor julle darem nog een of twee keer gesien en enkele dingetjies vir die volgende 50 jaar probeer leer. En as gevolg daarvan het wat 50 jaar kon gewees het, dalk vyf jaar geword en toe volg die egskeiding. Toe jy ’n ouer geword het, die belangrikste rol en bediening waarmee jy ooit mee vertrou kan word, was daar grotendeels stilte. Geen universiteit het ’n kursus aangebied vir voornemende ouers nie; selfs die kerk was besonder stil. Vandag is daar ’n ontwaking op hierdie gebied en baie skrywers, sprekers en instansies speel ’n rol om dinge om te keer (dis onder andere hoekom ek VitaAmp begin het).


Die beste raad vir enige ouer is doodgewoon om net altyd jou bes te doen, om net aan te hou probeer. Jou kind smag na ’n gelukkige gesinslewe. Jy smag na 'n gesonde gesin. Daarom, hou net aan probeer. Indien jy iewers langs die pad jou kinders se vertroue geskend het, maak vrede daarmee dat dit tyd gaan neem om hulle vertroue in jou te herstel. Werk egter doelgerig daaraan.


As jy bewus raak van foute, sien dit as leer- en groeigeleenthede en beweeg aan. Klim uit die see van skuld! As daar situasies opduik wat jou dom laat voel, baie welkom tot Ouerskap101 - elke ouer voel met tye so. Dis dalk hoekom ek ouers werklik kan en wil help, want dit kom ook uit foute, uitdagings en oomblikke van dom-voel. "Been there, got the t-shirt."


God self staan agter jou om jou op die uitdagende pad te help. Mag daar ure, dae, weke, maande en jare se wonderlike oomblikke saam met jou kinders wees op julle pad vorentoe. Sit jou hand in die beste, slimste en liefdevolste Pa se hand en stap die pad: 'n soms teerpad en soms grondpad.


Hou altyd vas aan Jesaja 51 vers 8:


Die redding wat Ek bring, sal vir altyd wees, die verlossing wat Ek bewerk, sal daar wees vir elke geslag.



15 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page