top of page
mieke9902

'n Gevaarlike ouer

In sommige huise hoor jy baie gereeld die "omdat ek so sê", of "maak soos ek sê en hou op vrae vra". "Huil nog net een keer" is 'n ander gewilde een waarmee kinders gedreig word. Hierdie tipe kind word eintlik geleer om nie te voel nie, om nie emosies te hê of te wys nie. Uiteindelik word so 'n kind geheel en al emosioneel ontmagtig. Emosies is gelyk aan 'n fout, en dis waarmee so 'n kind groot word.


Pa en ma voel baie tevrede met hulself, want daar is ’vrede’ in die huis. Boetie en sussie is doodstil, sê nie 'n woord nie en is beteuderd en bedees. Wat pa en ma nie besef nie is dat daar 'n leuen in jou kind leef en groei. Emosies is 'n fout. Onderdruk emosies ten alle koste is die antwoord. Dis verkeerd om te voel.


......en dan nog erger, dis gevolglik die gedrag wat jy by 'n volwassene optel. Yskoud en emosieloos. Almal wonder waar dit vandaan kom. Kan een mens so emosieloos en koud wees? Niemand dink dit kan dalk wees as gevolg van ouers se gedrag en optrede toe die persoon 4, 6 of 10 jaar oud was nie.


As gevolg van die opgekropte emosies, die mag-nie-voel magteloosheid, is van hierdie kinders baie aggressief. Dis al emosie wat hulle ken. Dis al emosie wat help dat opgekropte emosie uitkom. 'n Lae selfbeeld is die norm by so 'n kind - in pa en ma se oë was die kind mos nooit belangrik nie. Dit was 'n "bly stil, of...." situasie elke dag.


Pa en ma, kom ons help ons kinders om weer te voel. Kom ons leer hulle om emosies reg te verwoord en reg uit te druk. Kom ons leer hulle rustig en kalm om emosies reg te hanteer. Kom ons wees weer die emosionele mentors in ons kinders se lewens. Dis hoe ons emosionele gesonde kinders as jong volwassenes die lewe gaan instuur.

16 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page