Ek het kosbare vriende - goud. Hulle beteken vir my baie en is altyd daar in die maklike, lekker, feestye en ook in die uitdagende, moelike tye. Hulle is almal my portuur, hardwerkend en betroubaar. Hulle sal altyd my rug toemaak, absoluut eerlik met my wees (ook as hulle dink ek maak droog) en opdaag in die swaar en seer tye net om om te gee en daar te wees.
Uit wat ek in die eerste paragraaf geskryf het, is dit baie duidelik dat ek nie hier oor my drie kinders skryf nie. Hoekom nie? Dis eenvoudig: jy is jou kind se ouer, nie jou kind se vriend of vriendin nie. Hulle kan verseker ook nie vir my hierdie tipe vriend/in wees nie en hulle moet ook nie. Ek is die ouer en hulle is die kind. Ek het die verantwoordelikheid om die beste pa moontlik vir hulle te wees. Hulle vriende/inne is hulle ouderdom.
Ek is al moedeloos as ek uit 'n pa of ma (veral ma's) se mond moet hoor dat haar tienjarige of veertienjarige dogter haar beste vriendin is. Nee! Daar is 'n baie groot verskil tussen 'n goeie verhouding met jou kind hê en jou kind se vriend/in te wees. Dis doodgewoon nie aan nie. 'n Veertigjarige pa met 'n veertienjarige beste vriend?! 'n Veertigjare ma met 'n sestienjarige beste vriendin?!
'n Goeie verhouding met jou kind is lewensbelangrik. Dit sluit liefde en heerlik saam kuier en lag in. Daar is niks fout met 'n "lekker" huis nie. Inteendeel, dis hoe dit moet wees. Dit sluit egter ook duidelik gedefinieërde grense en dissipline in. Dit beteken dat jou kind dalk gereeld nie van jou gaan hou nie. Ja, goeie ouers weet al te goed: ouerskap is nie maklik nie en dis nie 'n gewildheidskompetisie nie. Goeie ouers is met tye ferm, streng en selfs kwaai wat jou erg laat daal op jou kind se gewildheidsleer.
So, liewe ouer leer groot asseblief: jou kind is nie jou vriend/in nie. Wees jy die ouer en jou kind die kind. Die vriendskapsjare, na baie liefde en duidelike grense en dissipline, gebeur na ouderdom 18. Doen dit nou reg sodat jy eendag die vrugte van vriendskap met jou kinders kan pluk.
Comments